
=====================================================================
Taalervaringe van 'n Duitse immigrant (AV 6:1)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Taalervaringe van 'n Duitse immigrant

Hendrik Schott   glo Afrikaans se bemarkingswaarde vir Duitse, Nederlandse en Vlaamse toeriste word nog nie behoorlik benut nie. OP 'n warm 
dag in 1995 het ek saam met my gesin in Kaapstad as nuwe immigrant aangekom. Een van my belangrikste beweegredes om na Suid-Afrika te 
emigreer was -- naas die aangename klimaat en die mooi natuur -- my passie vir die Afrikaanse taal en kultuur.

Reeds op my twee voorafgaande besoeke het dit my opgeval dat die status en die gebruik van Afrikaans in Suider-Afrika (in Namibi trouens 
minder as in Suid-Afrika) in baie opsigte van die posisie van tale in Europa verskil. In Europa oorheers byna altyd die moedertaal wat in 
'n bepaalde land of streek die grootste in die openbare lewe is. In 'n land soos Belgi, wat drie amptelike tale (Nederlands, Frans en 
Duits) het, is dit vir 'n buitelander aan die hand van die reklame op straat, die name van winkels ens. onmiddellik duidelik in watter 
gedeelte van Belgi hy hom bevind. Selfs sogenaamde klein tale soos Deens, Tsjeggies of Sloweens is in hul lande onbestrede die enigste 
kommunikasiemedium.

In Suid-Afrika daarenteen kry die gemiddelde buitelandse besoeker selfs in Pretoria of in die Wes-Kaap dikwels die indruk dat hy in 'n 
uitsluitend Engelstalige land is. Streke in Europa wat meertalig is, het oor die algemeen kennisgewingborde in twee of selfs meer tale. 'n 
Toeris wat deur Kaapstad ry, sal egter moeilik agterkom dat hy in Kampsbaai of Soutrivier was, aangesien hierdie voorstede blykbaar net 'n 
Engelse naam het. Straatkaarte in Afrikaans is onskynlik onbekend terwyl dit in Brussel (waar die Nederlandstalige bevolking 
persentasiegewys veel kleiner is as die Afrikaanssprekende bevolking van Kaapstad) geen probleem is om 'n Nederlandse of tweetalige 
"plattegrond" (straatkaart) te koop nie.

Terwyl die gemiddelde Europer verwag om ook deur buitelanders in sy moedertaal aangespreek te word en dit gewoonlik baie waardeer dat 
hulle moeite doen om die betreffende taal aan te leer, is dit in Suid-Afrika dikwels 'n probleem om Afrikaans te "mag" praat. Ook mense wie 
se moedertaal Afrikaans is, beantwoord vrae in Afrikaans gereeld in Engels. In 'n provinsie waar amper 70% van die bevolking Afrikaans as 
moedertaal het, word 'n mens oor die telefoon byna sonder uitsondering in Engels aangespreek, al het jy teenoor die versekeringsinstelling 
of bank 'n ander taalkeuse kenbaar gemaak. Is Afrikaanses dalk skaam oor hulle eie taal? Dit is trouens eienaardig dat as jy iemand bel dit 
oor die algemeen veel makliker is om Afrikaans te kan praat as wanneer jy byvoorbeeld in 'n winkel of kantoor staan.

In Europa vra mense eers om verskoning as hulle 'n bepaalde taal nie kan praat nie en daarna word dan gevra of dit moontlik is om die 
gesprek in 'n ander taal te voer. Hier veronderstel veral Engelse mense dikwels dat almal Engels moet (en wil) praat en Afrikaanse vrae 
word meestal sonder enige ekskuus in Engels beantwoord. Waarvoor het hulle op skool Afrikaans geleer? Hulle woon in 'n land waar Afrikaans 
elke dag gehoor kan word en tog lyk dit asof hulle die taal slegter kan praat as byvoorbeeld Swede wat Duits op skool geleer het maar in 
die daaglikse lewe haas nooit met Duits in aanraking kan kom nie.

Eie taal nie vanselfsprekend

Talryke mense is verbaas om uit te vind dat jy Afrikaans praat ondanks die feit dat jy ook Engels magtig is. Daar word blykbaar 
veronderstel dat jy net Afrikaans praat indien jy Engels nie kan praat of verstaan nie. Baie van die bogenoemde verskynsels berus 
waarskynlik op die feit dat Afrikaanstalige mense meestal tweetalig is en -- anders as Engelse mense -- die gebruik van hul eie taal nie as 
vanselfsprekend beskou nie. So het ek byvoorbeeld eers weke later agtergekom dat ons nuwe bure Afrikaans is aangesien hulle my altyd in 
Engels gegroet het.

Uit my persoonlike ervaringe het ek geleer hoeveel 'n aktiewe houding ten opsigte van die gebruik van Afrikaans die teenswoordige situasie 
kan verander. 'n Engelse medewerker van 'n poskantoor wat eers net Engels met my gepraat het, gesels nou met my uitsluitend in Afrikaans. 
'n Buurmeisie van Kanada praat met my (Duits/Nederlandse) seuntjies net Afrikaans, en met steeds meer mense in supermarkte en winkels "mag" 
ek nou in Afrikaans kommunikeer. Byna my hele korrespondensie met owerheids- en versekeringsinstellings, banke ens. is in Afrikaans. Deur 
eers te probeer om Afrikaans te praat en te skryf, sal baie mense ontdek hoe groot -- ondanks alle afskalingspoginge -- nog steeds die 
gebruikspotensiaal van Afrikaans is. Hierdie proaktiewe houding sal dan ook uiteindelik daartoe lei dat byvoorbeeld spyskaarte, 
gebruiksaanwysings ens. in die toekoms weer tweetalig word. Dis immers die klant wat die handelstaal mag bepaal.

Vir iemand met 'n (eentalige) Europese agtergrond is dit eienaardig om te ervaar hoe sterk 'n taal wat nie jou moedertaal is nie, jou 
daaglikse lewe kan benvloed. Dikwels is ek byvoorbeeld verbaas oor mense met Afrikaans as moedertaal wat my ('n Duitser) na die korrekte 
Afrikaanse woord vir 'n Engelse uitdrukking vra, of s dat hulle iets makliker in Engels kan uitdruk. Hierdie verskynsel is in die meeste 
Europese lande (nog) ondenkbaar. Die oorsaak hiervoor is waarskynlik die vroe en intensiewe aanraking met 'n skynbaar alles oorheersende 
taal wat egter nie die moedertaal is nie. So het dit my opgeval dat Afrikaanse ouers Engelse kinderboeke in die oorspronklike taal vir hul 
kinders voorlees, terwyl ek as Europer dit outomaties verkies het om hulle in my kinders se moedertaal te vertaal.

Aangesien Suid-Afrikaanse (Standaard-) Engels min deur ander tale aangetas is en dit op di feit kan berus dat Engelse mense waarskynlik 
die eentaligste bevolkingsgroep in Suid-Afrika is, is dit sekerlik vir die behoud van Afrikaans voordelig om Afrikaanse kinders soveel en 
so lank moontlik aan 'n uitsluitend Afrikaanse omgewing bloot te stel. So verkies trouens ook ouer Nederlanders, wat nog met min Engels 
grootgeword het, om in Suid-Afrika Afrikaanse koerante en tydskrifte te lees, terwyl jonger Nederlanders gewoonlik aan Engelse dagblaaie 
die voorkeur gee.

Diegene wat hierdie pleidooi utopies vind, moet in gedagte hou dat selfs 'n klein minderheid, die mense van Duitse afkoms in Suider-Afrika, 
daarin geslaag het om eie skole en ander (kultuur)instellings te behou. Daardeur is dit tans ook ekonomies haalbaar om vir hierdie klein 
minderheid 24 uur per dag oor satelliet vier Duitse televisiekanale aan te bied, terwyl miljoene Afrikaanstalige mense nog nie een TV-
kanaal het wat uitsluitend in hul eie taal uitsaai nie.

Wat my as immigrant gereeld opval, is die passiewe of selfs negatiewe houding van sommige sprekers teenoor hul eie moedertaal. Meer 
bewustheid van en ook trots op byvoorbeeld die prestasies van Afrikaanse mense en die feit dat Afrikaans tot nou toe daarin geslaag het om -
- dikwels onder baie moeilike omstandighede -- as volwaardige kultuurtaal (wat vir alle kommunikasiedoeleindes van hierdie en die volgende 
eeu geskik is) te oorleef, is volgens my noodsaaklik.

Miskien gee hierdie gedagtes van 'n (gedeeltelike) buitestander aanleiding tot 'n nuwe kyk op die toekomstige posisie van Afrikaans in 
Suider-Afrika: om nie alle negatiewe tendensies van die afgelope jare as onomkeerbaar te beskou nie en daardeur passief te raak. En moenie 
die bemarkingswaarde van Afrikaans ten opsigte van veral Nederlandse, Vlaamse en Duitse toeriste onderskat nie. Dit is 'n bate waarvan 
teenswoordig nog baie min gebruik gemaak word. n Dr. Hendrik Schott   is 'n vryskutjoernalis en konsultant oor entrepreneurskap. Hy was 
dosent in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Keulen.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av616.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Maart 1999 /// 'Ek is Afrikaanse Euro-Afrikaan' (AV 6:1) /// Afrikaans, 
jy en die Grondwet (AV 6:1) /// Veeltaligheid gekoester deur jong mense (AV 6:1) /// Geletterdheid (AV 6:1) /// HOOFARTIKEL-- Jaar met nuwe 
uitdagings (AV 6:1) /// Taalervaringe van 'n Duitse immigrant (AV 6:1) /// Afrikaanse posiebron vir Lae Lande (AV 6:1) /// In Verneukpan 
en Boesmanland lf Afrikaans (AV 6:1) /// Onbeskaamd granaatbos /// Toegevoegde teenoor verminderde tweetaligheid (AV 6:1) /// Kortverhaal 
-- Huisdiere (AV 6:1) /// Onderwys-werksessies (AV 6:1) /// Afrikaanse Bybel op die Internet (AV 6:1) /// Jan Schutte: 'n Huldeblyk (AV 
6:1) /// 'Dominee, 'n mooi sin is 'n mooi ding' (AV 6:1) /// Ligter taalmomente oor die grensdraad /// Nuwe era vir Afrikaanse boek (AV 
6:1) /// Op spoor van Maleise invloed (AV 6:1) /// Millennium-blues (AV 6:1) /// Afrikaans kuier oor die drumpel (AV 6:1) /// Hy 
verpersoonlik eerlikheid (AV 6:1) /// Ons lesers skryf (AV 6:1) /// Koningin stap voor in die ry (AV 6:1) /// Di koor gee jou hoop (AV 
6:1) /// Met 'n uitsig op 'n park (AV 6:1) ///

